As jy dom is, is jy dom maar partykeer……..

……is daar ‘n goeie rede.  Soos ek voorheen genoem het; MY KIND SLAAP MIN.  So ek funksioneer op +/- 4 ure ‘n nag se slaap.  En dit is nie altyd aan een nie.  Maar nou ja dis nie my dom storie nie.

Gisteraand het ek kaartjies gehad om krieket te gaan kyk in Chelmsford.  Wat die kaartjies spesiaal gemaak het was dit was in ‘n hospitality box gewees en dit was verniet. Ek kon nie drink nie want ek het bestuur maar ek moes net opdaag en mooi lyk.  Die mooi lyk ding het my so bietjie omver gevang omdat ek nie rerig een is vir opdress nie.  Ek voel net nie gemaklik in ‘n rok nie ek besit nie ‘n rok nie.  So eerstens moes ek winkels toe vir iets meer glamorous.  Nou vir ‘n dame van ‘n sekere groote is dit nodig om goeters onder die rok te dra wat al die “wobbly bits” minder wobbly laat lyk. So is die gedoentetjies saam met die rok Sondag gekoop.

So is ek toe opgetof krieket toe.  Baie versigtig met die loop in hakke wat ook nogal nie my gunsteling is om te dra nie omdat ek nie kan hardloop in dit nie.  My opinie is ek dra gewoonlik net skoene waarin ek kan weghardloop as ek nodig voel ek moet.  Maar nou ja ek dwaal af.  Opgetof… o- ja.  Die aand het mooi afgeloop en nogal vroeg klaar gemaak.  Terug kar toe gebalanseer noem ek vir die vrou saam my date ek een van die lae onderklere moet uittrek want die wurm will uit sy kokon klim.  Terug by die kar is ons in ‘n donker parkeerplek met net ‘n paar karre hier en daar.  Ook langs my is daar ‘n kar en so in die donker besluit ek om my rok op te lig en te begin strip.  Ek het net mooi my rok oor my boude gehad om by te kom wat ek kon toe die kar langs my se deur en alarm afgaan soos waneer iemand die knoppie druk. My eerste ding wat ek dink was o’shit ek het nie gekyk of daar iemand in die kar is nie. Toe ek opkyk met my intrek broek om my enkels kom die ou omie om die kar se neus te voorskyn ek skop die onderklere so met ‘n boog in my kar in en die kom te lande op my passesier se kop.  Ek spring in die kar en ek en sy sit in giggle hoe ons amper die ou toppie ‘n hartaanval gegee het met my stripshow.

Al giggelend ry ons daar weg en ek is op soek na die afrit wat my sal huis toe vat.  Ek kry nie die bordjie in die reen raakgesien nie en klim sommer op die volgende pad.  Wat ek toe ook herken as die A12.  En ek ry.  Na so lang ruk (baie lang ruk) dink ek vir myself maar hel die pad terug voel baie langer as toe ons gekom het.    En net daarna toe tref die besef my ek is besig om die verkeerde rigting in te ry. Colchester toe. Dit is eers agtergekom nadat ek 17 myl te ver die verkeerde rigting in is.  Draai – om ry terug.  Teen die tyd is dit amper middernag en ek en my mater besluit ons is honger en McDonalds is die keuse.  Kry een van daai 24hour een op die pad en stop vir ons midnight snack.   Die burger het goed afgegaan en niks is op ons mooi rokkies gemors nie en ons is daar weg.  Toe ek deer die roundabout kom sien ek die blou ligte agter my flicker en besef dadelik my fout.  By Mcdonalds is ek weg sonder om my kar ligte aan te sit.  Ek sit dit gou aan maar word nogsteeds gestop en gevra om uit te klim wat my toe so bietjie laat panic het omdat ek my hakke uitgetrek het om beter te kan bestuur.  In die UK mag ons nie kaalvoet bestuur nie so toe trippel ek uit die kar uit en staan met my voete in die donker met die hoop ek word nie uitgevang nie.  Die polisieman het sommer dadelik gesien ek was nie onder die invloed nie een omdat toe hy die liget aan gesit het het ek dadelik my ligte aan gesit en my fout besef, Ek was ook dadelik bewus van hom agter my en hy hoef nie sy sirenes te gebruik het om my te maak stop nie en teo ek uitklim het ek nie gestrompel of gemompel nie so toe kom ek we met net ‘n waarskuwing om beter notice te neem as ek in die nag iewers wegry. 

 Ek blameer al die mal dinge wat ek vergeet en dom doen op min slaap want toe ek by die huis kom net na 1am in die oggend het ek net aan die slaap geraak toe Edward wakker word en begin demands maak.

Advertisements

Slaaptyd met ‘n naguil

Wel as jy verantwoordelik is vir ‘n klein mensie dan weet almal mos maar dat slaap nie rerig meer bestaan nie.  As jy ‘n naguil-kind soos myne het dan is jy gelukkig as jy 4 ure se slaap ‘n nag inkry.   Ek moet sê hy was nog nooit in die 30 maande wat ek hom ken ‘n slaap kind gewees nie, so ek was nie soos ander mammas wie se kinders “die hele nag slaap” ewe skielik uitgevang met ‘n slapelose nag(te) nie.  Ek slaap nou net baie baie baie minder. Maar as jy ‘n siek kind het dan slaap jy glad nie.

 

Die arme ding het so net voor bedtyd aangekondig dat hy siek voel.  Nou vir my het dit beteken hy is moeg en warm in die weer wat ons nou het. Maar hy het op die vloer op sy kombersie gaan lê en toe weereens vir my gesê; mammie I am sick.  Dit is vinnig gevolg met hom wat ‘n kat skiet.  So nou weet ek twee dinge

  1. Hy verstaan baie goed wat die konteks van hy voel siek beteken, wat nogal merkwaardig is vir ‘n kind wat nie rerig siek is nie.
  2. Ek moet begin kots vang as hy vir my sê hy voel siek.

 

Na die kombersie in die wasmasjien gegooi is en die ekstra “bersie” uit die laai gehaal is het hy sommer so op die grond aan die slaap geraak.  Ek het hom later in sy bed gaan sit en so 1 uur se kant het ek hom weer gehoor sê, mammie I am sick, wat gevolg was met hom wat oor sy kot hang en al wat ‘n opervlak is in bereik bedek met stink kots.  Ek het hom opgetel en manlief het begin skoon maak.  Wat bietjie snaaks was omdat voor ons bed toe was het ek genoem hy moet sy skoene bere.  Natuurlik was dit een van die eerste goed wat ‘n direkte hit gevang het buite die kot so ek het maar net die onderlangse gemompel geignoreer en seker gemaak mnrtjie is skoon en gemaklik.

Ons twee het weer op die vloer in die sitkamer gaan slaap en die res van die oggend was gelukkig skoon gewees.

 

Toe ek vanoggend in die bad spring toe wil mnrtjie saam inklim en ek dag toe dis nie ‘n slegte plan nie want dan kan ons al die plekke waar kots gewoonlik vassit (hare en ore) gou gou was.  So sit ek en hy en gesels in die bad.

Ek:  Did you feel a little sick last night?

Edward: Yes mammie

Ek; do you feel better now?

Edward: I was sick on the floor and daddy had to do a big wash.

 

Ek het maar net gesit en giggle want in die hele gemors het die klein outjie nog steeds daai op en wakker naguil opservasies gedoen.

Ek sal maar etenstyd by die werk ‘n halfuurtjie probeer vang.  Gelukkig kan ek pretty much enige plek slaap en het nie lank nodig ome te recharge nie.  Ek kom egter meer en meer agter  die vloer slapery maak my lyf styf hoor.

Gatkrap

Julle weet mos as ‘n ding werk dan is daar altyd een dom donner wat loop en gaan krap waar dit nie jeuk nie.  Ek wil sommer daai mens gaan soek en sy koppie teen die muur stamp tot hy verstaan hoe stupid hy was.  Dit is die einde van die maand en een dom ou met sy vet finger het ‘n knoppie gaan druk en nou sit ek met baie werk en ‘n sisteem wat net weier om dit te doen.  Kos my die hele dag se tyd mors met email na email en smeek dat hulle iewers die fout kry en regmaak.  Dit beteken ook ek sal vanaand as ek van die krieket af terugkom by die huis in moet log en hoop iemand het genoeg simpatie gehad met my smeek briefies sodat ek bietjie damage control kan doen.

Sport, siel en pyn

Ek moet soms gewoond raak aan die idee dat ek nou groot en “verantwoordelik” is.  Ek kyk soms na my klein seuntjie en dink hoe is dit moontlik dat ek ‘n kind het, ek is dan nog self ‘n kind.  Maar in die regte lewe is ek ‘n grootmens.  Tyd is so snaakse bliksem wat jou nie net inhaal nie maar so stilletjies stilletjies verby hardloop en dan vir jou sit en wag om dit agter te kom.  Hy stuur darem so nou en dan ‘n wenk met ‘n grys haar hier en ‘n pyn daar.  Maar hy sit lekker hard en lag as jy gou gou hier of daar wil spring soos jy nog in jou gedagtes dink jy kan en dan vertel die lyf van jou ‘n ander storie.  Ek dink soms al die sport wat ek in my lewe aan deel geneem het, het meer kwaad as goed gedoen maar tog wil my siel net nie aanvaar dat die lyf nie wil by hou nie.  Die diep denke kom nou alles van ‘n seer lyf nadat ek krieket gespeel het (ek het op die wyse ouderdom van 34 besluit om buite krieket te speel elke sondag) Ek geniet dit baie maar soos ek sê die herstel tydperk is defnitief nie meer wat dit was so paar jaar terug nie.

Hoe gemaak

My kind is meer soos sy pa as sy ma in die sin dat hy bietjie terug getrokke kan raak in situasies waar daar te veel mense om hom is.  Hy is ook skaam rondom nuwe mense en jy kan op jou kop staan en kleurvolle balle met jou voete juggle jy sal nie sommer ‘n smile uit hom uit kry nie.  Tensy hy jou dadelik vertrou en dit is ook selde.  Oor die algemeen is hy ‘n baie gawe outjie en sal speelgoed terug vat van ander kinders af as hulle dit by sy maaitjies vat.  Hy is ook eerste daar as iemand huil om hulle te troos maak nie saak hoe groot jy is nie. Maar dalk soos sy ma sal hy eers seker maak of hy jou kan vertrou of nie voor hy nader sal staan en glimlag.

My kind is sensetief.

Ek weet dit en ek verstaan dit maar onlangs het ek agtergekom die een juffrou by die kleuterskool maak hom meer angstig as ander. Hy sal op ander dae baie gelukkig in huppel as hulle die deur oop maak en self vir my waai en sê; Lief jou mamma.  Maar as die een juffrou die deur oop maak dan steek hy vas soos ‘n donkie en weier net eeenvoidig om in te gaan of my been te los.  Ek hou van die juffrou maar iets om haar maak my kind in sy dop kruip en ek kan dit nie rerig ignoreer nie.

Hoe gemaak, wel ek gaan met sy klas juffrou praat om uit te vind of sy hom kan dophou rondom die een juffrou en my laat weet of sy enige iets kan optel van sy geaardheid wat verander. Ek wil nie op tone trap nie maar ek moet seker maak my kind is gelukkig waar hy is en die mense wat amper meer tyd as ek met hom spandeer is mense wat hy meer gemaklik voel.

 

Ontsnap

Ek skryf maar min omdat meeste van my daaglikse goed nie rerig iets is om oor te skryf nie. Ook die domineerende ding in my lewe is my kind en ek dink mense sal dalk bietjie gatvol raak as ek aanhoudend aangaan oor hoe oulik hy is (want hy is more cute).  Maar met dit gesê het ek besluit ek gaan probeer post en dit gaan hoogs moontlik oor die klein engelsman wees so as mense wil lees dan lees hulle en as hulle nie wil nie dan “so be it”.

Klein engelsman is nou twee en ‘n half en vol slim planne.  Die naweek weer het hy my ‘n les geleer van hoe vinnig die klein mensie kan beweeg.  Ons het by ‘n vriendin gaan kuier die Saterdag en lekker in die tuin gesit in tee drink.  Engelsman spring toe op en kondig aan so in die weg stap:

Edward: Baai mammie

Ek: Baai darling, where are you going?

Edward: Going to the shop

Ek: Oh, ok, what are you going to get

Edward: Bananas

Ek: Have you got money

Edward: Yes

Ek: Where did you get money from

Edward: from the lady

Ek: Ok then, love you, come back soon.

Niks veel meer gedink daarvan nie die deure is mos toe.  So paar minute later dag ek laat ek gaan kyk wat maak die kind met die denke hy terg dalk die kat.  Loop in die huis in en roep, geen antwoord nie.  Loop kombuis toe en roep al die pad en net mooi niks of niemand antwoord nie en ek kan ook nie enige iets hoor nie. Raak so bietjies meer paniekerig met elke roep, op met die trappe af met die trappe dag ek ek sal buite kyk.  Ruk die voordeur oop en voel my hart stop dood in my bors.  So halfpad in die pad af sien ek hoe stap my klein seuntjie in die straat in. Daar was nie ‘n kar opppad nie maar ek skree so hard vir hom: Edward GET OUT OF THE ROAD NOW!. Hy skrik sy gat af en spring terug op die pavement. Teen die tyd het ek al die 7 styl trappies van haar voordeur af gesprint en maklik die 50 of 60 meter in die straat af gecover met ‘n snot spoed wat Usain Bolt sal laat lyk of hy stilstaan, en al klaar besig om die volgop vraag the vra van; Where the hell are you going?  Hy met sy blou ogies antwoord so ewe met ‘n maar- ek-het-jou-mos-gesê houding; Going to the shop.

Met die antwoord kon ek nie eers verder raas nie want hy het mos gesê hy gaan winkel toe.  Ons het toe na die tyd besef haar voordeur sluit van binne af maar as jy die handel afdruk dan maak die slot oop en so ook die deur.

LES VIR MY:  As my kind sê hy gaan winkel toe dan beter ek saam stap.

Is die nie maar net maniere nie

So hier waar ek nou op die eiland bly raak ek soms tog so opgewonde as ek Afrikaans hoor. Met Edward wat in ‘n kleuterskool is wat nogal ‘n hele paar afrikaanse juffrouens in het is dit dan ook verstaanbaar dat daar nogal baie afrikaans sprekende mammas en pappas hulle kinders na sy skool toe bring.

So ontmoet ek ‘n paar mammas en toe ook so by toeval ‘n ouma wat kom kuier. Toe ek vir Edward sê; sê hello vir die tannie, toe dag ek die vrou val amper flou. Ek moet hom tog nie dit leer nie spin sy vir my.

Nou wonder ek net is dit rerig so erg om my kind sulke maniere te wil leer. Is ek net te lank al uit die land uit en dit is nie meer aanvaarbaar nie. Ek wonder nou ook as ek hom sê om eerder “mevrou” te sê gaan daar ander mense wees wat oprukkerig jou kind hulle maniere wil leer.

Ek sien dit dat as ek nie jou naam ken nie en jy is ouer as ek dan gaan ek jou of tannie of mevrou noem omdat dit is hoe ek grootgemaak is en dit is goeie maniere.
As ek verkeerd is of daar is nou nuwe etiket laat my weet of nog beter. As ek jou aanspreek in ‘n manier wat nie vir jou werk nie laat my weet wat ek jou dan moet noem eerder as om snobistiese aanmerkings te maak dat jy nie met my oom getroud is nie.

Tot dan sal ek my kind leer as hulle ouer as jy is dan is dit tannie. Want in my tyd was jy en jou mos ongeskik en sou die agterkant van jou kop plat geklap word as jy dit waag uiter.